Einde: Die groot partytjie (10)

Die groot partytjie (10)

Ek moes aan die slaap geraak het, want ek ruk van die skrik toe ek my naam hoor. Uit baie rigtings!

Ek kyk op en sien net feetjies in die lug. En almal glimlag en skree dat ek moet wakker word.

Die feekoningin land langs my. Sag vee sy die hare uit my oë.

“Ek is só trots op jou wat vir Queen so mooi help.”

“En die bye het kom vertel wat vandag gebeur het!” skree een feetjie. Ek lag en sê dat daar beslis bietjie aksie was.

“Het julle gehoor dat ek in die huis ingegaan het?” vra ek.

Hulle weet nie daarvan nie. Ek vertel die storie en almal geniet dit vreeslik – veral die misteri-euse boodskappe op die swartbord!

Hulle is verheug oor Queen se ma wat vir Tommy gaan leer om diere lief te hê.

“Dit moet gevier word!” skree ‘n klomp van die feetjies.

Hulle vat hande en maak ‘n groot sirkel om my, Queen en Prins. Dan begin hulle sing. Helder stemmetjies klink ritmies op in die skemer. Hulle dans twee treë voorentoe en twee agtertoe terwyl hulle hande vashou. Te mooi. Ons verkyk ons.

As dit stil word, begin die feekoningin praat:

“Queen, hoe gaan dit met jou op die pad van vergifnis?”

“Beter as wat ek ooit verwag het. Freeshia het my mooi gehelp. Ek is só dankbaar teenoor haar!” sein Queen.

“Kan sy maar vanaand saam met ons huis toe gaan? Sal jy nou self kan aangaan?”

“Ek dink regtig so. Boonop sal sy mos elke dag kom kuier!”

Die feekoningin knik haar kop. Sy kyk diep in Queen se oë:

“Ek is so bly jy sal self kan regkom.”

“Maar hoekom moet sy so skielik gaan?” wil Queen weet.

“Want ons het ‘n belangrike fees om te fier. Ons het ‘n nuwe feekoningin,” sê die een feetjie.

‘n Ander feetjie skree: “Ons moet nou gaan voor die vlermuise ons vang!”

Queen besef die gevaar en jaag ons aan. Selfs vir my! Sy belowe sy gaan die volgende dag weer saam met my heuning eet! Sy en Prins kry elkeen ‘n diep, innige drukkie en daar vlieg ek!

Ons vlieg veilig tot by ons bos. Ek vlieg by my huis in en gaan plons eerste op my bed neer. My liefste bed! Salig!

“Freeshia, die koningin soek jou dringend!” roep iemand.

Met ‘n sug staan ek op en vlieg tot by die koningin. Sy glimlag liefdevol vir my. Die ander feetjies staan in ‘n kring om ons.

“Staan asseblief op jou knieë en dan sê jy agter my aan: my liefste feetjies, ek sal julle getrou dien!”

“Hoekom?”

“Sê vir haar, sê vir haar, sê vir haar!” skree almal.

“Jy is ons nuwe feekoningin!” skree die koningin opgewonde.

“Hoekom?” vra ek.

“‘n Leier vergeet van haarself en gee om en help. Jy is verkies omdat jy vir Queen en Prins so mooi gehelp het. Ons wil so ‘n koningin hê.”

“Maak toe jou mond Freeshia!” skree iemand.

“En kniel nou en sê daardie woorde! Ons wil begin partytjie hou!”

Ek doen wat hulle sê. Daarna sit die koningin haar kroon op my kop. Die feetjies gil so erg die muise kom aangeskarrel in hulle pajamas. Die hase sluip bang nader en al die babavoëltjies huil!

Die feetjies begin sing en alles word rustig. Gou sing die baba-voëltjies saam – al is dit bietjie vals. Die ander voëls maak op daarvoor. Die paddas kom aangespring en val ook in. Laastens gaan staan ek ook in die kring en sing heerlik saam.

Ons begin dans. Ek dans tot my kroon skeef sit. Ons drink heuning tot ons taai is. Ek kry heerlik baie drukkies. Ai, dis ongelooflik om terug te wees tussen my feetjiemaats!

Skielik oorval die vaak my. Ek styg op en kyk af op almal:

“Baie dankie dat ek julle koningin mag wees en baie dankie vir ‘n heerlike aand!”

‘n Gejuig gaan op en ek vlieg reguit na my eie salige bedjie toe! Ek raak aan die slaap met die skewe kroon op my kop!

Toe die kroon daardie nag met ‘n harde klonk op die vloer val, word ek wakker en wonder wat het so lawaai. Ek sien die kroon en weet eers nie wat dit daar maak nie. Maar toe onthou ek en ek word bang… Sê nou dit werk nie!

Ek hoop ek sal niemand teleurstel nie! Voor ek aan die slaap raak wonder ek wat Queen van my goeie nuus gaan sê!

Advertisements

Prins word geboelie (9)

Dit is my huis hierbo. Ek verlang verskriklik! Maar eers moet ek seker maak Queen is op die pad van vergifnis. Sy het darem vandag opgestaan en aan dinge geloop en snuffel. Lê nie meer met daardie toe oë nie!

Skielik hoor ek Prins huil. Ek vlieg en gaan soek na hom. Agter die huis staan hy in ‘n hoek vasgkeer en die boer se seun gooi hom met fyn gruis-klippies.

Ek is woedend en gaan sit op die seun se skouer en skree:

” Hou op! Moenie diertjies seermaak nie!”

Hy kan my natuurlik nie hoor nie omdat sy hart so boos is. Ek trek sy een oor en dan die ander een. Hy klap na my maar klap in die wind. Ek trek sy hare. Dan weer sy ore.

“Hardloop Prins!” skree ek en Prins gaan kruip weg in sy hok.

Ek hou op om die seun te treiter. Ongelukkig sien hy sy kans en soek Prins en kry hom en trek hom aan sy stert uit die hok uit. Prins tjank en Queen kom grommend nader.

As die seun roer, grom Queen. Ek vlieg na my byvriende toe en verduidelik wat ‘n boelie die seun is en dat hy nie wil ophou nie. My byvriende zoem woedend nader. Hulle het ook nie tyd vir boelies nie.

Hulle vlieg op die seun af. Ek skree:

“Steek sy boude! Net sy boude! Dit moet voel soos ‘n pakslae!”

En hulle deel pakslae uit. Die seun skree. Hy probeer keer. Probeer die bye klap, maar hulle vlieg net vinnig uit die pad uit. Sy gille klink oor die hele werf:

“Eina! Aaklige goed!”

“Piets hom weer! Hy beledig ons,” skree die een by.

Piets, piets kry hy weer bietjie angel. Na die sewende piets sê een van die bye dat dit genoeg is. Partykeer is mense allergies vir bysteke.

Toe hy agterkom die aanval is verby hardloop die seun vinnig by die garagedeur in en maak dit toe.

Ek is nogal spyt oor die bye so versigtig is, maar hulle verseker my dat die seun ‘n paar dae baie moeilik sal sit.

“Baie dankie vir die hulp!” sê ek. “Help asseblief om ‘n ogie oor Prins te hou in die toekoms. As die seun hom boelie, moet julle ingryp.”

Die bye belowe hulle sal vir Prins én Queen beskerm teen hierdie wrede mensekind. Hulle vlieg weer terug na hulle bloekomboom toe.

Ek is nog baie kwaad en voel ek moet die saak verder vat. Ek vlieg by die huis se kombuis in. Daar is baie dinge waaraan ek my verkyk, maar ek sien niks wat my kwaad kan beter maak nie.

Dan sien ek die vrou se swartbord waarop sy haar inkopielys skryf. Daar is net drie items op.

Ek vat die kryt en skryf op die bord:

“Jou seun het ‘n ernstige probleem. Hy knou julle diere af. Doen iets.”

Ek wil sien wat nou gaan gebeur en land op die yskas. Hier kan ek veilig wag…

Toe die vrou inkom sien sy dadelik die woorde. Sy frons. Haar stem klink baie kwaai as sy haar seun roep:

“Tommy! Kom kyk hier!”

Tommy kom nie.

Die tuinier klop aan die deur. Die vrou groet hom en gee vir hom ‘n bord kos. Hy bedank haar en stap na buite. Skielik dink sy aan iets. Sy roep hom en vra hom of hy al gesien het dat Tommy die diere afknou.

“Ja Mevrou! Hulle gooi die diere met klippe en skiet hulle met ketties. Hulle skiet die hoenders dood én die eende. Hy en sy maats. Hy trek ook vir Prins aan die stert rond.”

Die vrou is woedend. Sy bedank die tuinier vir die inligting en gaan haal vir Tommy. Sy wys hom my woorde. Tommy ontken dat hy al ooit ‘n dier seergemaak het.

Sy ma sê dat hy by die tafel moet sit en daar wag. Hy gaan sit swaar op die seer boude. Sy stap uit na die tuin en roep die tuinier. Hulle stap die kombuis binne. Sy vra die tuinier om te herhaal wat hy haar vertel het. Hy doen dit. Hy sê dit met die grootste woede. Tommy skrik so hy stry nie eers nie. Sy kop hang.

“Het jy hierdie woorde hier geskryf?” vra die vrou aan die tuinier.

“Nee, Mevrou, ek kom nie in die huis nie. My werk is mos buitekant.”

Sy knik haar kop. Daar is ‘n frons tussen haar oë. Ek lag saggies. Misterie kan so interessant wees!

Dan sê sy: “Ons diere is Jesus se diere en hy het elke diertjie verskriklik lief. Van nou af sal jy elke dag vir my wys dat jy ook vir die diere van hierdie plaas lief is. Kom saam met my. Ons begin by Prins.”

Ek het lus vir nog misterie. Toe almal buite is skryf ek op die bord: “Dankie dat jy hom so mooi gaan leer!”

Daarna vlieg ek uit. Ek land op Queen se nek waar ek my lekker plat uitstrek op my maag en vir Queen lê en vryf. Ons kyk hoe haar ma vir Tommy leer om vir Prins liefde te wys.

Ek maak dankbaar my oë toe. Die goeie het oorwin. En die oorwinning is soet. Soos heuning…

Moenie in die modder bly gly nie (8)

Moenie in die modder bly gly nie (8)

“Sal die lewe weer mooi wees?” sein Queen.

“Ja. Niks hou vir ewig aan nie.”

“Ek is bly ek hoef nie vir altyd in hierdie modder rond te gly nie!” sein Queen.

“Ek het ‘n oulike rympie wat jy moet onthou as jou gedagtes jou moedeloos maak:

As jy aanhou om in die modder rond te gly, sal jy vir altyd in die modder bly!”

“Dis reg. As ek weer so heen en weer rondgly, sal ek jou rympie onthou.”

“Sal jy jou kinders aanhou besoek en baie liefhê? En vir Prins baie liefhê?”

“Jy klink of jy begin groet.”

“Nee, ek is besig om bietjie uit die modder te klim. Ek wil beplan vir ons kuier vannag. Is dit reg as ons vir die kleintjies heuning saamvat?”

“Net as ek eerste mag kry. Bring gou vir my ‘n bietjie.”

Ek vlieg na my bymaatjie Byka toe. Daar bedel ek heuning vir al die woefters. Byka en haar maats help my en gou het ons genoeg heuning vir almal.

“Maak oop jou mond Queen!” Van ‘n groot bloekomblaar af drup die heuning op haar tong. Prins draf nuuskierig nader. Hy na-aap sy ma en sit doodstil met sy mond wyd oop. Die heuning drup stadig op sy tong.

“Goed, sluk nou julle twee!”

Altwee proe en sluk en sein dat dit baie lekker is. Ek lag as Prins sy oë styf toeknyp en sy mond wyd ooprek en doodstil sit en wag. Saggies drup ek nog heuning terwyl ek sê:

“Elke keer wat jy ‘n hele dag lank mooi vir jou ma geluister het, mag jy weer heuning kry.”

“Regtig?”

“Regtig. Ek belowe,” sê die moeder.

Daardie aand maak ons dieselfde belofte aan Earl en Prinses. En hulle sien saam met Prins uit om sommer baie gehoorsaam te wees. Wat is dit nou om gehoorsaam te wees as jy heuning kan kry?

Kuiergaste (7)

Kuiergaste (7)

Die twee feetjies is baie bly hulle soektog na my is verby. Ons vertel oor en weer van al ons dramas.

Die grootste nuus is dat die koningin se sewe jaar om te regeer verby is. Sy het laat die feetjies stem wie haar moet opvolg. Drie is gekies en nou moet daar ‘n koningin uit die drie gekies word.

Ek skud my kop: “Maar ek kan nie nou teruggaan nie. Ek moet vir Queen help. Wanneer is die verkiesing?”

“Oor twee dae. Jy is een van die drie kandidate. Jy sal moet saamkom. As jy die wenner is moet jy tog daar wees as dit aangekondig word.”

“Jammer, ek moet eers vir Queen help. Sy gaan deur ‘n moeilike tyd. Ons is besig om dit te verwerk.”

“Ai, Freesia!” Hulle kyk my lank moedeloos aan. Skud die koppe. Trek sulke smeekgesiggies. Toe verander een die onderwerp:

“Kan ons jou help om weer te vlieg? Dan kan jy self huis toe kom as jy gereed is.”

“Dit sal so gaaf wees. Vat elkeen asseblief ‘n hand en vlieg met my.”

Feetjievinnig is ek in die lug. Salig. Hulle maak sirkels oor die werf. Dit is ‘n fantastiese gevoel.

“Kan jou seer vlerkie beweeg?”

“Ja!” skree ek bly. “Hy wapper soos ‘n vlag! Jahoeeee!” gil ek.

Eers los hulle my een hand. Ek vlieg heel gemaklik. Na ‘n ruk los hulle die ander hand. Ek laat waai! Maar toe word ek bang:

“Ek is bang vir die landing! Ek dink nie ek kan meer land nie!”

Hulle praat my moed in. Sê ek moet nou my vlerke stadig wapper en begin mik waar ek wil land. Hulle praat my deur dit alles. Ons land sag langs Queen.

Hulle wys waar is ons huis. Ek kan dit sien vanaf Queen se lêplek. Ek was toe al die tyd baie naby my huis. Skielik voel ek trane, want ek besef ek sal altyd naby Queen wees. As ek wonder oor haar kan ek kom kuier. Verligting laat my snik. Die ander feetjies vryf my hare en my rug. Ek huil en snik en snuif tot dit amper lekker raak! Deur al die snikkings sê ek:

“Ek is só naby Queen! Ons kan elke dag kuier.”

“Ons is bly vir jou part. En bly dat jy weer wil huis toe kom. Ons sal vir die feekoningin sê wat jou boodskap is. Maar nou sal ons moet teruggaan.”

En daar vlieg hulle. Lank kyk ek hulle agterna. Dan styg ek ook op en gooi wye vliegdraaie oor die werf. Ek kan sien waar ons huis is. Die verlange na my huis laat die trane loop. Hoop nie Queen sien my rooi oë nie.

Ek vlieg na my heuning toe en eet rustig my aandete. Ek land op Queen se nek. My oē val toe. Emosies kan jou nogal uitput!

Antwoorde (6)

Antwoorde (6)

Die volgende dag het ek Queen begin peper met vrae. Eerstens wou ek weet of sy en Prins nog gaan wegloop, want dit was vir my net ‘n klipdom plan.

Queen het my toe gerusgestel. Sy het verantwoordelik gevoel vir Prins se veiligheid. Sy wou hom nie blootstel aan rondloperhonde, jakkalse óf slange nie. En ja, sy wou hom mooi opvoed. Sy voel dis haar plig. Ek gee haar seker vyftig vryfies en sê oor en oor dankie aan haar en aan ons goeie Vader wat haar gedagtes verander het.

Toe wou ek weet of King haar kinders se pa is. Gelukkig nie. Hulle pa is die veearts se labra-dor. Hulle is so opreg as wat kom!

Toe begin sy vertel van King se dood. Die buurman en sy seun het een middag kom kuier. King het altwee mans aangeval en erg gebyt. Die boer het sy geweer gaan haal en King net daar doodgeskiet.

Ek kyk geskok na haar. Sy verseker my dat dit beter was – King was aggressief en wreed. Ook teenoor haar. Daarna het die lewe mooi geword – tot hierdie week…

Dit is toe dat ek vra of sy haar ma sal kan vergewe.

Queen het my nie geantwoord nie, maar ek het aangehou praat. Ek het verduidelik dat die lewe weer mooi kan wees. Vergifnis maak alles weer nuut en mooi. Sy het steeds stilgebly.

Toe bly ek ook ‘n lang ruk stil. Tot ek dit nie meer kon hou nie: “Queen, ek sê nie jy moet dadelik alles vergeet nie. Dit sal tyd vat en dis ook reg! Jy moet baie dink oor wat jy uit dié week sal wil leer en hoe jy dit sal wil onthou. En dan eers kom vergifnis.”

Stilte…

“Queen, belowe my net dat jy deur die proses sal gaan…” Stilte…

“Haai jy! Hoekom lyk jy so moedeloos?” vra Sussie die mier.

“Jy lyk vriendelik. Het jy my al vergewe?” verneem ek.

“Wat beteken vergewe?”

“Jy vergeet wat aan jou gedoen is.”

“Ok. Daardie triek kan ek doen! Ek dink lankal nie meer daaraan dat jy amper op my geval het nie. Ek was te besig om te vrees dat ek in ‘n luis gaan verander.”

Oeps. Hoop nie sy het nagmer-ries gekry nie.

“Moenie so frons nie. Ek terg net. Eintlik is ek hier om te sê daar was gister ‘n feetjie by die dam wat vir my gesê het sy soek na jou. Ek het gesê waar jy is en dat jy sukkel om te vlieg. Sy het gesê sy gaan vandag ‘n maatjie bring om jou te kom haal.”

“Ek sal probeer, hard probeer om haar te vergewe. Moet net nie weggaan nie,” sein Queen skielik.

Ek draai na haar: “Jy moet dit vir jouself doen. Vir jóú geluk. Nie vir my nie. En daarom moet jy King ook vergewe.”

Miertjie trek aan my rok:

“Daar kom hulle!”

“Asseblief, jy kan nie ook gaan nie,” sein-soebat Queen.

My plan…(5)

My plan…(5)

Die volgende oggend het Queen se ma vir Earl en Prinses na Queen gebring. Queen het aan hulle geruik en bly ruik. Skielik het die vrou, met ‘n hondjie onder elke arm, weggestap. Sy het die hondjies in die bakkie gelaai en weggery.

Queen het haar oë toegemaak en tjoepstil bly lê. Sy het niks na my toe gesein nie. Eenkant het Prins ‘n klomp duiwe verjaag en toe aan sy ma kom lek. Sy het net stil bly lê.

Ek het plat op haar nek gaan lê. My hande wou die gat in haar hart wegvryf. Hulle het gestreel en gestreel terwyl ek kliphard vir Queen se part gehuil het. Queen het net tjoepstil bly lê…

Na ‘n tyd was ek moedeloos gehuil. Die trooswoorde het uit my mond gestamel en het hol na die wit wolke gesweef. Ek kon haar nie troos nie. Ongelukkig het ek nie geweet hoe jy só ‘n seer beter maak nie. Ek het uitgeput aan die slaap geraak.

Toe ek daar wakker word, het ek geweet dat ek vir Queen van my plan moet vertel:

“Queen, kan jy hoog spring?”

Trots sein sy vir my:

“Baie hoog. Hoekom?”

“Want ek het ‘n plan: Elke nag as jou ma-hulle gaan slaap het, kan ons vir jou kinders gaan kuier. Ek sal styf vasklou en dan spring jy oor die hek en dan gaan kuier ons. Wat sê jy?”

Na ‘n lang stilte sein sy:

“Dit sal fantasties wees.”

“Goed. Dan rus ons nou en vannag kan ons lekker gaan kuier. Slaap nou lekker en vergeet van al jou hartseer.”

“Daar is een laaste ding wat ek wil sê en dit is dat ek gedink het my ma is nie so gevoelloos soos ander mense nie, maar sy is. Sy het nog nooit gewonder hoe ek sal voel as sy my kinders sal weggee nie,” sein Queen vir my.

“Jy is bitter teleurgesteld in haar nè!”

Sy antwoord my nie.

Ek gaan lê weer plat op haar nek en vryf haar pels tot sy rustig word, sug, op haar sy draai en slaap.

Later die aand gaan die ligte af. Slaaptyd vir die gesin, maar nie vir ons nie…

“Kom Queeny, ons gaan kuier!”

Sy spring opgewonde op. Ek weet ek sal moet klou aan haar halsband soos wat ek nie weet of ek kan nie! Sy storm die draad en spring met die grootste gemak oor.

Ons draf deur lang gras en verby donker bome. Onder miljoene sterre vind ons die pad na Queen se kinders. Ons is tjoepstil. Angstig soek ons oë na die bure se huis.

Daar brand nog ligte. Dit help ons baie. Queen spring hoog oor ‘n heining en draf-draf en dan skiet sy soos ‘n pyl oor nog ‘n heining.

“Queen, nou moet ons wag dat hulle gaan slaap. Jou kinders gaan so bly wees om jou te sien, hulle gaan vreeslik tjank.”

“Nee, ek gaan hulle heining toe roep en dan sê hulle moet tjoepstil wees anders kan ek nooit weer kom kuier nie,” sein sy.

Sy roep haar kinders. Hulle kom en luister aandagtig wat sy sein. Hulle waai net sterte en blaf nie ‘n blaffie nie!

Ons spring oor die heining. Queen lek haar kinders. Haar stert waai sonder ophou. Die hondjies spring teen haar op. Soek spene so in die spring.

Queen soek ‘n groot skadukol. Sy gaan lê in die donker en die twee honger woefies storm haar. Hulle soek ywerig ‘n drinkplek, gaan lê en drink tjoepstil. Ek klim af om bietjie in die tuin rond te stap.

Toe ek weer terug is by hulle verkyk ek my aan die perfekte prentjie van Queen en haar kinders…

Nadat die kleintjies lekker versadig gedrink was, staan Queen op en lek hulle. Weer swaai al die sterte. In die tuinlig blink drie paar sjokoladebruin oë baie gelukkig.

Queen sein dat ons moet teruggaan en dat haar kinders nou lekker moet gaan slaap. Hulle mag nie ‘n geluid maak nie. Die boer kan kom kyk wat aangaan en ons daar betrap. Hulle verstaan mooi en gaan lê in hulle hondehuisie.

Ons vlieg oor die heining en draf rustig huis toe. Skielik sein Queen vir my:

“Ek is seker ons Here het jou vir my gestuur sodat jy my kan help deur hierdie moeilike tyd.”

“Ek is so bly as jy dit so sien Queen! Ek dink ook so. Ek het nie toevallig tydens die moeilikste tyd in jou lewe hier aangesukkel gekom met twee beserings nie!”

Queen stem saam. Ons raak elkeen stil in sy eie wêreld, maar dan onthou ek iets:

“Sal jy aanhou om vir Prins te help om te verander?”

“Ja. Ek sal nou al my tyd aan hom kan spandeer. Hy moet ‘n ware prins van die werf word. Nie ‘n lae klas boelie nie!”

Volgende keer: wie is die woefies se pa?

Queen kla oor Prins (4)

Queen kla oor Prins (4)

My skouer voel al baie beter. Ek staan op Queen se boud 🤣 en wil probeer afvlieg. Net om te toets of ek al kan. Maar waar val ek vir my disnis! 😣

‘n Kwaai stem laat my nie toe om van my skrik te herstel nie:

“Jy het my amper dood geval! En nou is my grassie weg. Ek het só lank na die regte grassie gesoek. Gemene feetjie!” skree ‘n miertjie. 🐜

“Jammer…”

Ek kon nie my sin klaarmaak nie. Sy vertel hoe hard sy werk en hoe feetjies net rondsit en nou selfs begin simpel raak om van honde af te spring.

Ek gaan nie verduidelik nie. Net omdat ek nie nou lus het nie en ek hét mos gesê ek is jammer!Maar dit beteken nie ek het my nie vervies nie:

“Skoert! Of ek verander jou in ‘n luis… wil jy hê almal moet jou Luis noem?”

Toe skree ‘n klomp miere gelyk op my:

“Boelie!” en: “Is jy besig om ons sussie af te knou? Ons sien jou maklik reg. Moenie dink miere is bang nie…” 🐜🐜🐜🐜🐜🐜

“Sy wil my in ‘n luis verander!” huil Sussie nou. 🐜 Klein opstoker. Sê niks van hoe lelik sy maak nie!

Ek skree met ‘n dieppp stem:

“Ek verander sommer die hele spul van julle in luise!”

En hulle hardloop in ‘n swart streep daar weg 🐜🐜🐜🐜🐜 en roep na die koningin:

“Mamma, Mamma!”

Maar sy is so diep in die grond sy hoor hulle nie. Met daardie lyfie van haar verwag ek ook nie vinnige reaksie nie – indien enige!

Ek gaan lê lekker opgewerk op ‘n koeltekolletjie naby Queen en probeer afkoel. Vredeliewende Queen lê en grom.

“Queeny, wat nou?” vra ek benoud. “Sien jy skelms aankom?”

Sy sein vir my dat Prins nou al ‘n paar dae vir Earl erg boelie. Sy het al hoeveel keer vir hom “verduidelik,” maar hy luister nie. Vandag boelie hy vir Prinses ook. Kort-kort hoor jy ‘n hondjie tjank. En as jy kyk, is dit nooit Prins nie.

Queen is lekker omgekrap. Ek probeer vir haar ‘n vriendin wees en sê niks om Prins in ‘n slegte lig te stel nie. Vriendinne moet weet wanneer om nie kop te knik of te beaam nie.

“Prins is ‘n gebore boelie. Hy verstaan nie dat sy spelery nie vir Earl en Prinses lekker is nie. Nee, al wat tel is dat hý lekker speel.”

“Ai, Queen! Nou wat gaan jy doen?”

“Ek dink nog. Boelie is onaanvaarbaar. Ek is erg geboelie deur die ou hond wat verlede jaar dood is. Hy het my gerol met die snoet, gebyt en my kos probeer opeet. My mensma het my getroos en in die huis gehou. Sy was baie jammer vir my en dit was goed, maar sy het nooit vir King op enige manier laat verstaan hy doen verkeerd nie. Dit was baie verkeerd van haar.”

“Ja, Queen. Dis die boelie wat ‘n groot probleem het en hy veroorsaak dat daar baie probleme ontstaan in die een wat geboelie word.”

“Die boelie moet gestraf word en die gevolge dra van sy onaanvaarbare gedrag,” sê Queen vies.

Skielik begin Prinses onbedaarlik tjank. Queen vlieg op. Sy storm vir Prins en byt hom aan sy bek. Sy rol hom oor die gras. Byt hom aan die boud. Die bloed loop!

Ek skree dat sy moet ophou, maar sy stop nie. Haar ma kom uit en tel vir Prins op.

“Hier is te veel honde op die werf,” sê die ma vies “more vat ek vir Earl en Prinses na die bure toe. Dit kan nie so aangaan nie.”

Queen kom aangestap na haar lêplek toe.

“Queen, jou kinders gaan na die bure toe. Weet jy waar dit is?”

Queen sein dat sy al baie daar was. Sy weet presies waar dit is en dat dit nie eers ver is nie.

Ek kry ‘n wonderlike plan…

Queen kyk lank voor haar uit en dan begin sy sein dat sy bly is sy het vir Prins reggesien. En as sy weer sien hy boelie sal sy dit weer doen.

Prins kom uit die huis uit en gaan lê naby sy ma. Hy lek aan sy seer boud en Queen maak haar oë toe – maak of sy hom nie sien nie. En dan begin sy vir hom sein:

“Ek is baie ernstig. Elke keer wat jy boelie sal jy gestraf word. As jy aanhou, sal ek aanhou. Só, die keuse is joune.”

Al wat ek kon dink is: Wow! Queen is nogal kwaai!

Ek gaan lê op Queen se nek en begin my planne beraam…