5. Ons kinders (7)

Erger as apartheid

Agter vier mure

(ver van die bure)

waar niemand omgee

word geliefdes verskree,

gebied en geskel

uit kele van hel,

sluip daar predatore

in die donkerste donker

na kinderkamers

en laat bose luste los …

Enige opponent

vir wie die drank, die skel,

die lewe van hel

dalk ontstel,

word summier neergevel.

Die vernieldes,

smagtend na gewaande vryheid,

klouend aan die hoop

van iets beters

skuil in onveilige kamers

en staar snags

in magtelose eensaamheid

by swart vensters uit

(San Dreyer)

Kinderhande

Voor jou verhaal

kruip jou vingers

skaam-skaam rond.

In jou skoot knaag ‘n duim

aan ‘n vinger se smart

vier naels se leed

kasty ‘n palm se hart.

Dan breek jou wysvinger

oor die skuldiges los

in die terugrit na die waarheid

van jou onthou hardloop jou hande

agter jou storie aan

en jou onskuld reën op almal neer

en jou palms vou oop

in ‘n duisend vrae…

(San Dreyer).

Gelykmakers

Juffrou, weet jy

Alice is my beste maatjie

en weet Juffrou

ons bly in ‘n garage

nie soos Alice-hulle nie

hulle huis is só fantasties

en my pa gaan ons skei

want my ma is weer op die bottel

my pa sê dis haar tietiebottel

dan vloek sy hom

en gister toe Alice haar feetjierok

vir die konsert aanpas, sien ek

die blou kolle –

dis amper oor haar hele lyf!

Toe ek vra, sê sy

dis haar pa

Juffrou, sy het gesê

ek mag vir niemand sê nie…

En ons sal swyg

My kind, Juffrou weet

van die kaste vol drank

en die leë yskas

en dat jy jou só skaam

vir dit alles

ek weet dat jou kindwees

‘n ysterhok is

wat hou wat hy het

soms, grommend woedend

byt jy die tralies tot jy

moeg op jou arms bly lê

en dan, sonder om te kla

begin jy weer

om al die seer

dapper en ferm

agter jou tralies te beskerm.

Allepo 2016

In ‘n dooie stofstraat

sit ‘n kind

op ‘n rommelhoop bakstene

van haar maatjie se huis

ontplofde geboue

hang skeef oor sypaadjies

kyk uit leë oogkaste na mekaar

sonder arms sonder hande

grafeer gruwelgeboue

in haar brein

‘n oorlog in die diepste hel

van vrees

waarin hoop ontplof

tot angsvolle rommelhope

van magtelose desperaatheid

waarin alle hulp beskaam.

(San Deyer)
Speelparkbom

Jy het diep gedaal:

tot in die hel der helle

waar jy in gewaande mag

bomme plant –

ook in ‘n speelpark in Punjab!

Daar het jy kinders laat ontplof

die pretlig in hul oë verdof

swaaie en skoppelmaaie

leeg gelaat

jy het ouers deur heltrane

en kermkreune laat soek en smeek:

Help ons dat hulle sal lewe!

Jy maak in gewaande mag

arms leeg en harte dood,

jy maak in gewaande krag

een groot fout:

Ons God ís Groot!

(San Dreyer)

Jy is my kloon

Klim sukses se leer.

Leer om druk te hanteer.

Wees skougereed.

Trippel om en om in die arena

en jy kry ‘n foon.

Laat my goed lyk

en jy word met hope geld beloon.

Word soos ek

en jy erf wat myne is:

‘n leefstyl wat oë laat rek.

Want ek weet

wat jy nie mag vergeet.

(San Dreyer)

Advertisements

Published by

Gedigte wat jou laat dink.

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.