6. My laseroë (15)

Waarheid

Waarheid is gehawend en vinnig

hier by my verby –

haar klere was in slierte

en amper afgeskeur

soos wat daar grypend probeer is
om haar te keer.
Sy het skamel deur die strate genael
om iewers net ‘n deurbraak te kry
om net te kan sê:
“Hier is die bewyse
niemand kan dit weerlé.”
Maar, sy is gearresteer
voor die hof gedaag.
Die vonnis is lewenslank –
vir al die leuens wat sy versprei.
(San Dreyer)

Goedkeuring

Daar is ‘n knellende ketting
wat jou vasgevang wurg:

‘n ketting deur jouself
om en om jou gedraai:

ander se goedkeuring wat jou gelukkig moet hou…

Dit is ‘n ketting
waarvan die knel roep:
buig ‘n skakel oop
stap vry weg
van die een
met sy stywe nek
in sy eie ketting
wat arrogant van jou
sy goedkeuring weerhou!

Medialiefde

Die media en Hollywood beweer

liefde is rooi rose, sjokolade

en ‘n teddiebeer.

Verder yl verliefde vroue:

“Hy is altyd daar vir my!”

Natuurlik volg ‘n huwelik

waarin rooi rose verlep hang,

dorings seer prik,

sjokolade smelt

En natuurlik sal teddiebere

net voor Valentynsdag

‘n ontsnapping beplan…

(San Dreyer)

Donker siele

Vreemd hoe ‘n naaste se skandaal

in meer as een verhaal

bly herhaal

weer en weer word dit gerepeteer

en nog net een keer

tot dit seer bly eggo

by dié wat probeer vergeet

tót…hul van die dofverligte verhoog

tastend die weg probeer vind
na dié buite

van keuse: van kies

tussen alleen in die donker

en die donker siel van jou naaste

(San Dreyer)

Eenkant

Jou oë se verlate kyk

het my gejaag, gevang, geboei…

In my het oopgebreek

besef en deernis

uit die boeie het gebreek

die wil om te bid

vir die magteloosheid in my –

maar ook in jou…

En ek het gesmeek

dat jou oë

more vervuld sal glans

oor die mense

wat God vir jou stuur.
Sweempie
Gereed met die moersleutel
van introspeksie
word die enjinkap gelig –
opsoek na die moer van die dryf.
Egoboute word losgedraai,
eie eer se skroewe word ontsleutel,
een vir een word uitgepak:
die onderdele van aanvaar en verwerp
(nogal verstommend identies)
maar vreemd –
aan die ghriesbesmeerde hande

kleef daar nie ‘n sweempie

van die liefde nie

kern

trek bietjie die duur klere uit

hier is vir jou klere –

voos gedra

en dié uitgetrapte plakkies

kom sonder hoë hakkies,
haal die gesigverf af

was die kapsel uit

en jammer – geen juwele!

nou, sonder al die lagies om jou

kan jy begin grou

diep, diep in die psige

na jou kern

na jou

Misgetaste doel

sonder wroeg oor ‘n hoër doel

word in doelgerigte harwar

krioelend en gierig

‘n doel uit hope grond gemier

in lang toue

word deur nou gange getonnel

om te kan stapel

in die vele kamers

van swierige miershope –

uitgelewer aan miervreters

met lang klewerige tonge

Die volmaakte

As die onvolmaakte

streef na volmaaktheid

word hebsug en oë gevoer

deur prag en praal.

In dié onstilbare honger versplinter

die smag na die Volmaakte

en sy perfekte Kruis

en word Golgota verdring

tot ‘n ver koppie

in dowwe skemering.
Waan

Die mens, die groot ontdekker

van God se oeroue geheime,

swerf nomadies

gewapen met rekenaar,

mikroskoop en teleskoop

(wat hy ook ontdek het)

deur velde van kennis.

Deur die drang na ontdek

word hy gedryf

verby die 1.360 kilogram

van sy brein

verby nederige opkyk

en afhanklik vra –

ja, verby Golgota

(San Dreyer)

Soos jy alleen wil

Die jagter het die boog

fyn teen homself gespan

die pyl het in die sentrum

van verwerpingsangs

ingetril, diep ingesink

tot by smag na aanvaarding

selle daar oopgeruk

en die bloedbegeerte na mag

laat uitborrel…

in die skerp lig

het glansrooi vertoon:

om te doen

soos die self alleen wil

vermeng stil-stil

met die bloedbegeerte

en stol stadig in dié waarheid

(San Dreyer)

En die ergste…

in die swart grot van donker denke

lê selfsug uitgestrek

op sy koninklike bed

bene gekruis

arms onder sy kop gevou

weeg hy planne

vir sy gemak sy kollig sy eer

wie hy kan indoktrineer

wie hy kan verkleineer…

maar as die Goddelike Lig

onverwags by die grotbek instraal

is selfsug ‘n vrotgroen massa

wat verblind steier en lomp probeer

om die Lig

van sy droggesig

af te weer

(San Dreyer)

As die swaar kom

Die winter klamp sy koue kloue

en sleep ons hakskeenspore

deur dik lae blare

deur nare hees winde

waarin onwillige bome

hulle koppe opstandig buig.

Ons word neergesit

voor ‘n kaal boom

waaraan fyn, liggroen blare

en pienk bloeisels

ons moes verbly het

tog: in seënbeelde van ‘n vorige lente

bloei die wete

dat dit wat winter was,

onherkenbaar sal toegroei

(San Dreyer)

Omgeeharte

Wrokkorse om harte beskerm

teen verwerping

teen onreg

vulkaanharte lek ysterrooi

verkrimp wat voorkom

tot ‘n grysswart dal van dood

wat lê en smag

na die Ewige Planeet

se soel koel geisers

wat sag salwend sal sproei

korse sal deurweek

en lawaharte sal lawe…

(San Dreyer)

Psigopaat

Daar is jy
en die ander jy van jou
ook jou alters
en jou aliase –
soveel weergawes van jou…
Soek ek in jou dialoog
en handeling na die ware jy
vind ek tussen die blaaie
van jou onleesbare boek
geen tema
geen enkele motief
geen konklusie oor jou

(San Dreyer)

Advertisements

Published by

Gedigte wat jou laat dink.

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.