8. Roekelose politiek (9)

Wêreldwyd monster die geldboelies

hoe lyk jy binne

jy wat in duur pretensie

jouself niks ontsê

elke wet ignoreer

die gereg se lang arm amputeer

– vir jóú oorvloed!

wat laat jou onversadig

miljoene van jóú mense steel

hoe lyk jou siél

dat die miljoene

nét jóúne moet wees

uit watter hel

is jy gestuur om op aarde

jou tande in biljoene te slaan –

terwyl jóú mense moeg gespartel

in die kake van armoede lê

Verkiesing 2019

nou reeds meer

as výf en twintig jaar

vuur elk met sy blameergeweer

teen die blou van onse hemel

uit die diepte van ons harte

die verwyte wat nie wil kalmeer

ons sien nie

oor die ver verlate vlaktes

‘n nuwe land wat wink

doof vir sy roep

is dit net die kranse

wat aan hom antwoord gee…

om te bou word verteer

in die vuur van die blameergeweer:

met ‘n graaf word verwyte tot in ewigheid oopgespit

‘n hysķraan

lig uit ons dieptes

eeue se onreg –

by die nuwe aanskoue

van die stokou seer

word harte toegemessel

sterf kreatiwiteit

in die roep na wraak

word weer gegryp na die blameergeweer

Waarhede en kommissies

en toe was daar die visie

vir nog ‘n kommissie

met ‘n storie

van nog ‘n geldboelie

getuienis waarin skelm waarhede

skuil in donker grotte

van vrees vir verantwoording

vir antwoorde wat sal uitbasuin:

waarom dié wat meegesteel het nou wrokkige getuies is

hoeveel is al húlle omkoopgeld

en in watter kasteel word dit bewaar

watter vals ridders wou nie luister na waarskuwings

oor kontrakte en omkopery nie

wie lieg dat hulle nooit

geweet het van dit alles nie…

hoe sal ons politici

weer bietjie meer

as niks kan vertrou?

as die betwyfelde

onwaarskynlike hofsake

kan gebeur kan vel:

die gieriges moet

vir altyd en altyd

ongelukkig en brandarm

oranje pakkies dra

Die vergetenes

weerskante van die straat

word die erewag hoopvol langer:

werkloses sit arm

op sypaadjies en wag –

dalk kom ‘n bakkie

wat hulle na ‘n werk sal vat…

maar dag na dag begrawe

hierdie hoopvolles

dooie beloftes vir werk –

terwyl dié wat belowe het

hul valse beloftes vergeet,

nie van hiérdie lyding weet

maar met bose lis

net té besig is

om mekaar te verwoes

oor wié die land mág leeg oes

Dolleegste

Daar is hierdie ervaring:

die ontnugterende leegheid

van ons damme

ons parlement

‘n afwesigheid

wat die vertroue

in dié verkose

in slikblokke op die bodem

laat kraak en krummel…

In die silwer son van Afrika

lê in die modder:

nóg ‘n land

in ‘n skokkende stand:

vol korrupte rowers

‘n staatskas leeg gesteel

die waarheid weggelieg

biljoene veilig versteek

Verwagting

Daar was die verwagting:

uit hierdie dop sou ‘n haan broei!

En geen mishoop vir hom nie…

Hy sou as leier

op die werf vernuwing bring –

demokrasie en werk vir almal!

Toe die dop sy geheim openbaar

stap ‘n valk uit: gulsig en vol wraak,

vir hom was demokrasie

blote fantasie…

Hy word gevoer met mag,

word sterk in sy wanbesteding,

oefen om te vlieg bo die reg,

hy sirkel oor die werf

en daar is geen skuiling

teen die skaduwee

wat in elke lewe sou kom lê…

Takseer hom op sy baadjie

Die wit boordjie en das

sein sy skyn,

sy swierige klas –

lae lap wat moet versteek

dat in ‘n oranje oorpak

‘n voorbedagte skuil

wat arrogant glo

alles is hom geoorloof.

Sy korrupte verraad

laat dié om hom

versink in ‘n hongerhel

terwyl by hom nét tel

die rowerspel

om die tessourie te beheer –

want onder sy pak klere

glim daar ‘n oorpak

in oranje.

Oorlog
as ‘n “leier” luskry om oorlog te speel

gooi hy die terme

nasionalisme en totale aanslag rond

in duet met die media

keer hy die waarheid onderstebo

tot meeste hul “leier” glo

dan kom die wit voël

om ons seuns op te laai…
na eeue kom die wit voël weer

op die aanloopbaan

lê sy eiers van houtkiste

in die landsvlag gedrapeer

hol vertroostings volg:

die offer is vir die land gemaak
As die “leier” hom uitstrek

op sy lazy boy

word nog seuns ontplooi

want die spel van mag

word nooit voltooi

Asgate

Wat maak jy

as daar nie in die ekonomie

vir jóú beplan is nie –

as daar nié werk is nie:

wanneer daar in gulsige onkunde

geen visie is

vir ‘n groeiende ekonomie

as daar net in groot vraatsug

met groot sorg beplan word

vir nóg korrupsie sonder gevolg?

Is dit dan

dat jy in jou swart plastieksak

by asgate dwaal,

met jou molkloue

deur vrot vullis vroetel,

in ‘n ou mynhoop jou nes uitmol?

(San Dreyer)

Werkskepping

Hoe het ons land

in dié gemors beland:

op die straathoek se randsteen

sit ‘n gryse,

sy hand opgesteek

na my en die Alwyse:

vir net ‘n werkie

om weer te probeer

om die honger te keer.

Hoe het alles so radeloos uitgedraai

dat gryses op ‘n grou more

‘n ou, onseker hand

moet opsteek teen die winterlug?

(San Dreyer)

Gekaapte staat: Suid-Afrika

Die kaping lek uit ‘n bron

drup elke dag nóg modder uit

lek-lek aan ons logika

sypel in na die begrip

en laat die wete dryf

in ‘n poel van donker besef:

óns is die offer

vir húlle vraatsug

en as dié realiteit

geassimileer word

bly daar modderpoele oor

waarin verraad van dié verkose

verraad van die gereg

dik en donker verslik

(San Dreyer)

Rassisme

Reeds in die moederskoot

word mensekinders

éénders geweef:

na God se beeld,

nét minder as ‘n hemelse wese,

kroon van die skepping!

Met trots stuur Hý

ons die wêreld in –

waar die aartsverwoester

ons inwag, afkeur,

verstoot – op grond van kleur…

Die werklose sieke

Ek moet hom aanhou versorg:

hierdie lyf wat nie wil dood nie

wat siek saam sleep

en knaend en klaend bly kerm.

Ek is lankal dood,

maar hý, kragteloos in sy pyn,

stel steeds stilferm sy eise…

Terwyl vuurwerke die oujaar

uitmekaar skiet en plek maak

vir nóg ‘n werklose ewigheid

kan ek dalk aan ‘n tou

hierdie lewe laat ophou,

kan ek en my lyf uiteindelik skei

kan ek vry

by my God gaan bly.

(San Dreyer)

Advertisements

Published by

Gedigte wat jou laat dink.

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...

2 gedagtes oor “8. Roekelose politiek (9)”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.