Gedigte: Hfst. 1 tot 10

10. Insig (16)

Vertrou

kon ek maar

sonder twyfel vertrou

sou ek nie die fondasie

van my kasteel

met my hande

in die sand grou –

sou ek nie met sand bou!

my sandkasteel se murasie

sou nie intuimel

op my eie krag

en elke dom plan van my nie

my sandkasteel sou nie

weer een word

met die strand

om vir ewig

‘n lugkasteel te bly nie!

as ek kon vertrou

was ek die vakleerling

wat my lewe hélp bou

***

Oorgawe

Die slapende skone affodil het weer ontwaak,

want haar Prins was betyds

sodat sy kon blom in haar tyd –

soos lank terug deur Hom bepaal.

Op dieselfde tyd elke jaar

help Hy haar

om haar sagte groen lyfie te wikkel

uit harde wintergrond,

Hy laat haar weer songeel lag

en vry dans in ‘n ligte lentewind –

haar oorgawe roep die vraag

waarom ons onsself wil bewys

ons eie eer soek

as oorgawe aan Hom

die harde wintergrond

kan oopbreek

en ons songeel sal kan lag

en dans in die lentewind

***

Siklus van hoop

kaatsende oerstene verlig tydelik die oniksnag

na enkele ure sluier ‘n rosige skemering die gewelf

bly daar hang, maar rustig en seker

kom die oorgawe

aan die groot saffier

wat blou glim in ons eie ster…

sonder om progressie terug te hou

skuif laatmiddag sagte koraal voor die blou

en fluister van ‘n nag sag en soel

wat alles weer sal afkoel

dan, as die helder skittering

van ligjare ver wéér alle duisternis oorwin

weet jy: soos in hierdie seker siklus

is ook ons hoopvol

op pad na dit wat beter is

Oud

As die liggroen lente

en sy bloeisels in pienk en wit

klokhelder sovéél belowe

wil ek daaraan vasklou –

koppig my gees laat stagneer
in ‘n ewige hoopvolle lente

terwyl, onkeerbaar,

op sy eie genetiese pad

my lyf deur seisoene snel.

(San Dreyer)

As die swaar kom

Die winter klamp sy koue kloue

en sleep ons hakskeenspore

deur dik lae blare

deur nare hees winde

waarin onwillige bome

hulle koppe opstandig buig.

Ons word neergesit

voor ‘n kaal boom

waaraan fyn, liggroen blare

en pienk bloeisels

ons moes verbly het

tog: in seënbeelde van ‘n vorige lente

bloei die wete

dat dit wat winter was,

onherkenbaar sal toegroei

(San Dreyer)

Hopende vertroue

die perskeboom vertrou

op genoeg son, reën

en eindelose seën

daarom dat deur sterk bas

brose botsels breek,

hoopvol daaruit

die teer pienk oopbars

om rooiryp te vrug

vir die mens wat wroeg
om God te vertrou

of sy hoop op Hom te bou

Hoopvol

in hierdie stormsee

het hoop verdwyn…

ons is selfs moedeloos

oor dít wat ons
onbeskaamd hoopvol

in die gesig staar
– onbewustelik het ons gekies

om selfs die hoop op U

iewers in die denke

net te laat verklip

tot rotse van gekose verlatenheid

daarom die bede:

dat hierdie rotse sal smelt

tot riviere lawa

van onmeetbare hoop en vertroue

op U ewige liefde

vir elke mens

Laat die liefde tsunamie!

Laat vergifnis deur my spoel

tot ek deurweek drup,

besproei my met geduld,

laat vloed in my dank en lof

oorstroom my met u liefde

sodat dit kan uitgolf

op die droë sand

van elke honger hart,

diep insypel

tot by die seerste smart

dít dan oplos, wegvoer

sodat u liefde

genesing kan bring

en verder tsunami

Oorwinning

Dié stryd is in jou, om jou:

goed teen kwaad,

donker teen lig –

herfs daag somer uit

verkleur die groen

tot winter sy sege

deur kaal takke juig…

maar deur die tyd versterk

loer liggroen oral oorwinnend uit,

groei tot ‘n somer wat tooi

in groen en kleur –

tot herfs liggeel en slu

wéér begin byt

tog: dít wat immergroen is,

staan sterk, gee die belofte

van die Triomf wat kom –

die grootste nóg in hierdie stryd!

Leeg

voor die gewaande god

van erken en eer

buig ons verniel en ontmens

weer en weer

om die inherente Klein

se eggoroep te kalmeer –

gewillig offer ons

lewe en Lewe

om dan ontnugter

in te staar

op die swart leegheid

van verniet en verkwis

Realiteit

vir introspeksie

word die mikroskoop

na binne gerig:

drenkelingdrome vloei verby

party steek ‘n hand uit

ander spartel oewer toe

die oues sink, kom weer op

verdrink dan stil…

drome wat die hardste skreeu

se realiteit

was versteek in blink beloftes

een vir een sink hulle

elkeen in die verraad

van sy eie eendag in

terwyl eendag omdraai

in die spoor van sy eie fantasie

PERSEPSIE

Gun die waarheid

om sy realiteit

teenoor alle illusie en persepsie
te openbaar:

as stroefgrys wolke oor ons hang

voel die swaar

of hy nog altyd by jou bly

jou lewe sy tuiste maak

tog knal ‘n straal

skeur die leuen uitmekaar

en waarsku

dat regverdig gemeet moet word:
ten spyte van al die seer
alles wat skort
is dit seën
wat uit donker wolke

in ontelbare druppels reën

Ons ma is dood

teen die hemel se blou

spel die liggroen

‘n splinternuwe lente,

al lesend sien ons uit

na dit wat opnuut begin

en weer sal groei

na dit wat mooier,

volmaakter is as ooit –

tog lê in hierdie lente ons ma

oral in begrafnisbriewe

dood in die huis

kyk sy na my

uit haar nuwe lente

lag nuut uit die doodsbrief –

want sy kan die nuwe hemel sien

wat intens sterk

die krag van nuutheid versprei

tot in ons – sodat ons

aanklankend en simbioties

nuut wil groei

uit ons eie onvolmaakte winters

Oudword

as jou voete bleekbruin winterblare

in die aarde inknars

moet jy nie huil

oor hul verlore lentegoen,

óf oor hul somergroen wat sag

growwe takke kon toevou nie,

vrees nie die kaal takke

se krom vingers

wat wil wys wáár gister lê nie,

want fyn bleekbruin word kompos

vir die gees wat voort moet groei:

deur vryspraak vir dié om jou

deur die naaste in omgee te omvou

ons God nóg meer te vertrou…

Stagnasie

Soms, so ongelooflik ongereeld,

roep die saad steurend, dringend

dat groei stil – stil

opsy geleef is

dat van introspeksie

geen sprake is

en veral die insig

om hoegenaamd

die groei te definieer

totaal afwesig is!

Keuses

Jou snoer

word met soveel sorg gemaak:

oorweeg, opweeg en heroorweeg –

oor en oor ryg!

kleure moet pas –

nie teen mekaar skree,

maar harmonie weergee

uit silwer en kristal

moet die nodige kontras kaats

in elke detail

triomfeer die regte

bó die slegte!

Advertisements

Published by

Gedigte wat jou laat dink.

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.