Die mense om ons

Verstaan ons wie elke mens in wie ons vaskyk en saam met wie ons leef, werklik is? Daardie mens is God se liefling soos jy God se liefling is.

Ons medemens is God se kinders wat na sý beeld gemaak is, sý kinders vir wie Hy baie lief is. Hy is geduldig met my en met hulle. Wat gee my die reg om met hulle lelik te wees in my gedagtes of dan in enige situasie? Hoe durf ek God se geliefdes swak behandel, beskinder of verneder? Watter reg het ek?

Kom ons kyk wie ons naaste werklik in God se oë is: Efesiërs 1:4-5 verduidelik dat God voor Hy die aarde geskep het, ‘n besluit geneem het oor ons (en ons naaste). Dink daaroor! God het toe al besluit jy (en jou medemens) gaan op aarde leef. So kosbaar is jy (en jou medemens) dat God voor jou (en die medemens se) geboorte besluit het jy (en jou naaste) mag nooit verlore gaan nie. Daarom moes Jesus vir jou (en jou naaste) sterf én opstaan.

Dink diep hieroor na… Dit is wat God dink van jou ouers, familie, man, vrou, kind, skoonouers, kollegas, bestuurder, huishulp, tuinhulp, jou vyand en almal, almal om jou.

Kom ons vra die Heilige Gees om dit te kan onthou. Kom ons vra die Heilige Gees om mense met respek, liefde en omgee te behandel. Omdat ons dit graag wíl doen, want ons weet dit is nie ‘n opsie nie. Dit is ‘n bevel van die God van die heelal vir wie ons baie lief is.

Published by

Gedigte wat jou laat dink.

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...