Om met God te praat

Om met God te praat is nie my sterkpunt nie en dit pla my regtig. Ek skryf hieroor omdat ek dink dalk is daar nog mense wat sukkel om openhartig met God te praat.

Waarom sukkel ons so om met God te praat?

Dalk is ons só vasgevang in oorlewing dat dit ál is waaroor ons dink – hoe ons alles gaan bekostig en hoe ons ons gesinne gaan beveilig. As ons dan wel by God uitkom vra ons net vir beskerming en seën en hulp om net hierdie lewe te kan leef.

Vir my is sulke gebede nie verkeerd nie. Ons bevestig immers so ons diep afhankikheid van God. Genadiglik besef ons ons kan hierdie lewe nie sonder ons God leef óf oorleef nie!

As ek eerlik voor God bely, erken dat ek sukkel om te leef soos Hy wil hê, voel dit of ek meer kan oopmaak. Is dit omdat ek erken ek weet ek is ongehoorsaam dat ek sommer nóg dinge kan erken? Ek weet nie… Maar dán kan ek van meer dinge vertel: goed wat my bangmaak, goed wat té diep seermaak, teleurstellings, ontnugterings, my probleem om openhartig met God te praat…

God nooi ons om te bely, want Hy weet dit is gesond vir ons vehouding met Hom. Dit herstel die verhouding met God. As ons dit op ‘n daaglikse basis doen, herstel dit ons verhouding daagliks. Dan sal ons ook daagliks nader aan God kom.

Maar ons moet eerstens ‘n goeie verhouding met God begeer. En dit is waaroor ek einlik moet dink en eerlik wees vandag:

Wil ek regtig met God ‘n openhartige verhouding hê? Is dit ‘n begeerte by my? Dalk is die begeerte nie so diep en ernstig nie. Dalk moet ‘n mens eerlik wees hieroor dan sal die verhouding met God dalk makliker verbeter. Daar is ‘n eerlike gebed wat ons kan bid:

Here help my asseblief om ‘n oop, persoonlike verhouding met U te hê.

Help my asseblief om my ongehoorsaamheid aan U in te sien. Wys my elke keer daarop asseblief Here.

Help my ook asseblief om my sondes te bely en nie te regverdig met ‘n klomp maars nie.

Selfs in hierdie swakheid kan ons net die Heilige Gees se hulp vra. Hy sal verstaan. Hy sal ons help om met ons drie- enige God te praat.

Published by

Gedigte wat jou laat dink.

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...