Doen introspeksie

Doen introspeksie
Filipense 1:9-10

Hierdie vers is vir my so mooi! Ek het altyd gedink liefde is liefde. Maar liefde moet groei volgens hierdie gedeelte:

Ons moet toeneem in begrip. Emosionele intelligensie toon, ons kan indink in mens en dier se omstandighede. Hoe ver is ons dikwels daarvan af!

Dan moet ons ook toeneem in begrip in wat ons hoor en lees oor ons geloof.

En die mooiste van alles is dat ons moet kan onderskei wat werklik belangrik is – waaroor die lewe eintlik gaan.

Toe ek op universiteit was, was daar ‘n modewoord: introspeksie. Ontleed die motiverings van jou gedagtes, emosies, woorde en dade.


Nie almal se belangstelling nie… maar vir my is dit geweldig interessant. En jy kom nogal uit by verkeerde motiverings. Ook uiteindelik by vrae soos: is dít hoe ek wil wees? Is dit hoe ‘n Christen lewe? Is dit waaroor die lewe regtig gaan?

In hierdie tyd wat ons so baie tyd het om te dink kan ons gerus vir God vra vir hulp om ons verhouding met Hom en met ander te ondersoek. Hoe lyk dit met ons verhoudings? Watter motiverings sit agter wat ons dink, doen en sê? Werk ons almal én vir God met ‘n plan om altyd en altyd ons sin te kry? Net eerlike introspeksie sal dit kan uitwys.

Baie mense vrees introspeksie, maar as jy die ingesteldheid het om geestelik te groei is dit mos ‘n metode om uit te vind waar jy nog kan groei.

As jy in stilte gaan dink hoekom jy ‘n paar minute gelede so geïrriteerd en ongeskik was kan jy by ‘n paar interessante antwoorde uitkom:

Hoekom was ek so? Want ek is moeg, moeg! Wat het jy gedoen om so moeg te word? Werk, koskoop, kook, wasgoed…Hoekom alles op een dag? Waarom help niemand jou nie? Dit is tog my plig! Nee, dit is almal se huis en almal moet help. Hoe lyk jou tydbestuur? Dit bestaan nie. Hoekom nie? Ek het nie tyd om ‘n rooster en werksverdelings te maak nie.

Mmm tydbestuur is werklik ‘n probleem…Wag net gou… Verdien die ontvanger van jou ongeduld nie nou ‘n verskoning nie? Let wel, nie ‘n verontskuldiging nie!

Interessant dat ons met daardie stemme in ons koppe kan redeneer, hulle vekeerd bewys, uitoorlê en oorgaan tot aksie om te bewys ons kan en wil verander!

Kyk na die volgende voorbeeld:

Hoekom was ek nou so kwaad? Ek het aan iets onaangenaam gedink. Hoekom nou skielik? Die hond se geblaf het my laat dink aan ‘n slegte gebeurtenis. Hoe laat die gebeurtenis jou voel? Kwaad. Hoekom? Want die hond het daardie dag onnodig seergekry. Hoe het jy toe gevoel? Kwaad. Hoekom? Want dit was onregverdig. Hoe het jy nog gevoel? Hartseer en magteloos. Wat het jy gedoen om beter te voel? Ek het gehuil. Hoekom? Soos die hond was ek magteloos om iets te doen. Toe huil ek maar saam met hom. Het dit jou regtig beter laat voel? ‘n Bietjie… So jy word vandag nog kwaad of jy huil as jy magteloos voel? Ja. Het jy nog nooit daaraan gedink om liewer oor so iets te skryf om perspektief en aanvaarding te kry nie?

Nog ‘n voorbeeld: Hoe lief het jy God werklik? Baie lief. Hoekom? Hy is lief vir my. Hoekom sê jy so? Hy sorg mooi vir my, help my… Hoekom sê jy so? Moet ek voorbeelde gee? Ja. Dit help om meer dankbaar te voel, nog meer lief vir God te voel…

Hierdie gesprekke met jouself kan tot ‘n beter verhouding tussen jou en God en tussen jou en jou naastes lei. Dit kan lei tot ‘n beter begrip van jouself! Dit is ‘n wonderlike manier om te ontdek hoe jy nog geestelik kan groei.

Moenie bang wees om die vrae te vra nie. So kom jy agter wat jou motiewe werklik is. So kom jy agter waaroor die lewe regtig gaan…

Published by

httpafrikaansegedigte.wordpress.com

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.