Die vergewe doenlysie

Ek is nie ‘n kenner op die gebied van vergewe nie. Al wat ek weet, is dit is moeilik. Veral as jy die mens wat jou veronreg het se motiewe bevraagteken.

Kan ons ‘n oomblik hierby stilstaan voor ons by ons God se bevel oor vergifnis kom?

Kom ons kyk wat kan dit moeilik maak om te vergewe:

Jy kry mense wat in gesagsposisies is en jou op vele gebiede boelie. Die mens se obsessie met mag maak dat hy in die gesin, by die werk, in koshuise, kinderhuise, tronke noem dit maar op, sy mag laat geld deur af te knou. Emosioneel of fisies.

So werk hulle kastig “saam” met jou, maar hulle kry altyd die maklikste en die ligste werkie. Hulle dreun jou en kontroleer jou en laai nog op tot jy buig. Tot jy humeurig raak, grom en doodmoeg almal om jou verwaarloos – net sodat jy die boelie kan laat goed lyk. En jy voel uitgebuit en jy voel jy word nie gerespekteer nie.

Dan kry jy die boelie wat nie sy skerp tong kan beheer nie. Hy sê vir jou die vreeslikste goed, maar omdat hy jou meerdere is, moet jy dit sluk.

Ook kry jy die meerderes wat hou van openbare vernedering. Hulle blaker al jou foute in vergaderings uit omdat hulle glo jou vrees vir vernedering sal jou foute elimineer. Boonop glo hulle as hulle van jou ‘n voorbeeld maak, sal die res te bang wees om ‘n fout te maak…

Dit is jammer dat ons sulke gesagfigure hoë aansien gee en hulle sien as leiers. Jammer, ‘n leier en ‘n bestuurder lyk nie so nie…

Dan kry ons die mense wat hulle gesinne verraai en net verdwyn. Sodoende die gesin in armoede, hartseer en verwarring agterlaat! Kyk hoe gaan dit in gesinne. Besef ons hoe gesinslede mekaar verniel, verraai en verneder?

Nog ‘n voorbeeld: jy beleef dat in jou besigheid iemand wat jy vertrou het al jou geld steel en die pad vat. Het hy gedink hoe jy gaan sukkel om ‘n bestaan te maak?

Ja, ons kan die vreeslikste goed aan mekaar doen.

Hoe lyk al hier die mense se gesindheid? Presies soos almal van ons s’n as ons mense seermaak en boelie om ook ons sin te kry. Niks anders nie. Niks nuut nie. Baie keer moet ons bietjie tel hoeveel mense ons seermaak, voor ons so seergemaak weier om te vergewe.

Om te vergewe is die kern van ons geloof. As jy ongehoorsaam is en mense liefdeloos behandel, moet jy spytkry sonder al die maars waarmee jy jouself wil regverdig. Stryk die maars uit en wees dapper genoeg om te sê:”Ek het lelik gemaak/ Ek het die persoon sonder respek behandel.”

Wees dapper genoeg om te sê jy is jammer. Jammer is die medisyne van ons verhoudinge. ‘n Apologie maak dit moontlik om die verhouding te herstel en weer te kan aangaan.

As ons ‘n gesinslewe het waar ouers en kinders kan jammer sê, berei ons almal voor vir daardie moeilike konflikte wat nog voorlê.

Maar terug by die boelies wat jou geboelie het en daarmee aangehou en aangehou het. Hoe vergewe jy dit en al die voorbeelde wat ek genoem het?

Ai, ek sukkel my dood daarmee! En dan is dit nie omdat ek nie weet dat Jesus gesê het ons moet selfs 70 x 7 vergewe nie! Ek weet ook dat God sê as ons nie vergewe nie, sal Hy ons nie vergewe nie.

Hoekom sukkel ‘n mens dan so met vergifnis? Julle, ek dink partykeer was die vernedering net te groot. En partykeer was die verraad te groot of die onreg te erg. Of die uitbuit of mishandeling was te erg. En veral was die magteloosheid te erg en te swaar.

Magteloosheid, vernedering, verraad is baie moeilike emosies om te hanteer. Ek is baie oortuig daarvan dat die verkeerde hantering hiervan, soos byvoorbeeld die onderdrukking daarvan, baie negatiewe gedrag tot gevolg gaan hê. Soos dat jy nie kan vergewe nie of as jy wraak soek. In erge gevalle lei dit tot kriminele gedrag.

Ek noem dit om jou te help om te bepaal hoekom jy ‘n skere insident nie kan vergeet nie en die persoon wat jou verontreg het nie kan vergewe nie. Moontlik het hy jou te veel verneder, of te erg verraai, of geboelie en het dit jou magteloos, magteloos gelaat. Jy het begin wraak sweer. En die enigste wapen wat jy het om jouself mee te wreek is om nie te vergewe nie. En die boelie of verraaier weet dit nie eers nie!

Nou wat nou? Ons God beveel ons om te vergewe. Want Hy weet vergifnis is genesend. Dit maak verhoudinge heel. Hy het op ‘n slim manier ons ongehoorsaamheid as ons mekaar seermaak probeer oplos. Hy weet ook vergifnis maak ons vry en heel. Daarom beveel Hy ons om te vergewe.

Hoe op aarde gaan ek daardie groot vernedering of verraad of geboelie vergewe?

Deur eerstens te erken: Ek kan hom nie vergewe nie , want hy het my te erg verneder/verraai/seergemaak.

Tweedens moet ons erken dat dit ‘n bevel van God is om te vergewe.

Volgende moet ons besef ons ewige lewe is op die spel as ons hierdie bevel om te vergewe nie gehoorsaam nie.

Daarna moet ons dit alles aan God belei: “Here ek is jammer, maar ek sukkel om hierdie vernedering te vergewe. Vergewe my dat ek nie kan vergewe nie. Help my asseblief. Help my om te besef ek het ook al teen mense gesondig. Help my om oor hierdie gevoel ‘n oorwinning te behaal. Ek wil die persoon vergewe. Help my om te kan vergewe asseblief! Herhaal hierdie proses tot jy kan sê:

Ek wil hom/ haar wat my leed aangedoen het/verneder het/so erg geboelie het vergewe. Ek wil dit graag doen omdat God my so beveel het. Ook omdat dit sondig en ongehoorsaam is om nie te vergewe nie.

Kom ons maak die lysie van mense wat ons nog moet vergewe.

Begin die redes waarom jy nie kan vergewe nie een vir een op die bogenoemde manier aanspreek en begin vergewe en word vry! Ons kan en mag dit nie net los en diep in ons onderbewuste bêre en nooit daaraan dink nie. Dan bly jy steeds in kettings…

As ons vergewe en daarna ons onvermoë om te vergewe as ‘n sonde belei voor God, word ons verhouding met Hom óók weer herstel. (Ja, die verhouding met Hom was erg in die weegskaal al het ons nooit so gedink nie!)

Sterkte. Jy is nie alleen in jou stryd om te vergewe nie. God wil jou graag help.

Published by

httpafrikaansegedigte.wordpress.com

Om te dig in my taal roep my, dit dwing in my en dis lekker verby! Ek vra God om my te help dig - dus dig ons saam. Ek probeer 'n wye verskeidenheid van universele temas dek. Hoop dit sit heerlike debat aan die gang...

3 gedagtes oor “Die vergewe doenlysie”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.