Voortdurend sing die natuur sy lof!

Loflied van die see

Onkeerbaar, weer en weer

word haar lof gebring:

witbruisend draf sy uit

op korrelsand,

gly terug in lang skuimslepe

omtower dit in turkoois

wat rustig oorbuig

skuimend neerplof

en wit sproeikonfetti strooi

vir ons Heer.

In hooggety dans sy ritmies

in hoë spronge

op blinkswart rotse

haar jubel galmend, prysend

met wit arms wat reik na Bo

en in my roep die smagting:

Heer, skep in my die lof

van die juigende see…

Advertisements

In die spore van Mozart

Genugtig! Om te dig kom nie maklik nie! Hoeveel keer ek hierdie gedig oorgedoen het, sal niemand glo nie. Ek wou baie graag iets mooi van Mozart dig! Omdat ek so lief is vir sy musiek, het ons spesiaal in Mei in Salzburg, sy geboorte-dorp, gedraai:

Liewe Mozart,

ek wou deur Salzburg se strate

op jou melodieë dans,

my oorgee aan jou genialiteit,

maar jou musiek

het doodstil gegalm –

dit het my nie verwelkom

of gevra vir ‘n dans

my enigste troos was

dat ek geëerd, bevoorreg

in jou toegetrapte spore

kon loop…

op die plein het ek

saam met ‘n beeld van jou

in die reën gehuil, gerou

oor jy só jonk, só arm

net dood is!

Die geheim van vrede

die immergroen blaarmesse

van ‘n ou bloekomboom

sny die blou lug aan repe

om die dik stam

wieg rustig in die wind

lang los bas

wat die stam se dieper mooi

in diagonale strepe

van grys en room ontbloot

aan sy takke hang ‘n vrede

wat stil in my weerklink

my roep, naderwink

met my kop op sy bors

my arms om sy lyf

vra ek in ‘n fluistering

of hy die geheim van sy vrede

met my sal deel

Die vergetenes

weerskante van die straat

word die erewag hoopvol langer:

werkloses sit arm

op sypaadjies en wag –

dalk kom ‘n bakkie

wat hulle na ‘n werk sal vat…

maar dag na dag begrawe

hierdie hoopvolles

dooie beloftes vir werk –

terwyl dié wat belowe het

hul valse beloftes vergeet,

nie van hiérdie lyding weet

maar met bose lis

net té besig is

om mekaar te verwoes

oor wié die land mág leeg oes

Die vrede van tevredenheid

ek wil daarvan by haar steel –

net genoeg om dit

in my hand te kan hou

in te snuif en te assimileer –

sodat ek kan transformeer;

sy het só genoeg daarvan

as sy op wintergras hop-hop

haar kos tevrede soek, sluk

in mossietaal

haar dank tjirp- tjirp

van haar so onbeduidend klein

so onopvallend vaalbruin

wil ek steel:

tevredenheid – nét genoeg

om my denke te regeer

in my te laat leef

‘n vrede wat reflekteer

Verwyte

Ek beluister my vriendinne nou die dag so. Almal is toe op ‘n guilt trip, want die kinders verwyt hulle oor dit en dat. Boonop verwyt die vriendinne ook hulleself! Oor hulle opvoeding.

Ek verwyt myself ook – te besig, te ongeduldig.

My maatjies is jammer oor hulle nie hulle kinders meer geprys het en so meer selfvertroue gegee het nie – mense se selfvertroue ontwikkel mos omdat jy sekere dinge goed kan doen. (Wie het dit uitgedink?)

My ander vriendin is spyt sy het haar kinders as sulke jammerhartige mense grootgemaak. Nou trap mense op hulle en verstaan nie die omgee nie.

Al hierdie kinders het baie liefde en aandag gekry en is vandag almal baie oulike mense! Ons behoort eintlik baie trots te wees op ons opvoeding!

Ongelukkig het ons die keuse gemaak om nou, as ons niks kan doen om ons opvoeding te verander nie, foute te soek en onsself te verwyt.

‘n Dag is te kort om jouself te verwyt oor die verlede. Jou bedoelinge was goed, jou omstandighede nie altyd maklik nie, maar jy het hard probeer om vir jou kinders te gee wat hulle nodig gehad het – veral liefde, aandag en ondersteuning!

En uit dit alles skep God toe ‘n pragtige volwasse mens vir jou. Net daar om te geniet.

Dan moet ons ook onthou ‘n kind leer by almal om hom. Daarna kies hy uit hierdie bronne wat vir hom werk en hoe hy wil leef.

So, hou op om jouself te verwyt. Leer jou volwasse kinders dat jou én hulle keuses en God se seën hulle gevorm het en dat verwyte onnodig is.

Daar was ‘n tyd wat ek myself erg verwyt het oor my kinders se opvoeding. Op ‘n dag het ek vir my kinders daarvan vertel. Daarna het ek om verskoning gevra vir wat ek dalk verkeerd gedoen het en vergifnis gevra. Dit was bevrydend!

Mens se persepsie oor jouself en jou gedrag kan ook verkeerd wees! Jy kan jouself beslis ook verniet verwyt. My kinders vind dit baie snaaks as ek sê ek was te kwaai. Kwessie van persepsie!🤓ons kyk dikwels deur ‘n verkeerde bril na onsself en dit steel ons geluk!

Die klem moet eintlik daarop wees om mekaar te geniet en vir die gesin wonderlike memories te bou.

Ons het byvoorbeeld ‘n ritueel van Sondagoggend tee en koekies – en almal wil Sondae weet wanneer kry hulle dan nou koek en tee! En natuurlik braai ons ook Sondae. Vrydag-aande eet ons biltong en pap! Dan lees ons ook baie middae of aande saam – foontjietyd (of ander leesstof).

Terug by verwyte: verwyte bring ons nêrens. Dit steel die wonderlike seën om mekaar net te geniet!