Om te vergewe

Vergifnis

Eendag lank gelede

toe maak ons

mekaar mos seer

daarna gebeur dit

weer en weer

ons sit mekaar in kettings

om álles te kan onthou

en ons sukkel en struikel

want ons vergewe nie.

En in die spieël

sien ek verstom:

elke pad na vrede

begin by jouself!

Dit is Oktober! Kom ons vier die omgee tussen ons.

Verskoon die uitleg. Ek kry nie die spasiëring tussen die reëls reg nie! Dit wil net nie!

Parysliefde

weerskante van die rivier
het ons elkeen
op sy eie oewer gestaan
voor ons het diep vreemde waters
die skeiding beaam…
tog was daar die moed
om die waters te toets
mekaar halfpad te ontmoet
ons het toegelaat
dat sagte druppels ons leer
dat ons genade en seën

op mekaar moet laat reën

golfies het ons veilig omkring

en groter uitgegolf

ons liefde ‘n Seinrivier gemaak

wat ons oewers kon verenig

in ons eie Parys

met ons eie Eiffel

Om dogters te mag hê

Om dogters te mag hê

Om dogters te mag hê

is om te kan sê:

God is groot, God is goed:

Elk in haar eie lente

bekoorlik, komieklik

waggel my swaantjies lewens-bly

daag hulle my:

leef, lag, wees bly!

Saam met my swaantjies

sien ek weer bloeisels

en nuwe groen,

juig ek oor die lente

en dat ons mag groei…

In my herfs leef saam met my

nou volwasse swane –

steeds lewensbly!

In ons saamleef

groei ek en strek

na die swaan wat ek kán wees –

my beter ek…

Onverdiende respek

Respek is vir my ‘n baie ernstige saak. Veral respek vir iemand se emosies, menswaardigheid, sy opinie, sy lewe, sy huwelik en sy besittings. Ek sien egter min respek in ons land. Dit behoort vir ons ‘n groot, groot bekommernis te wees.

Terloops – die gedig was baie moeilik om te skryf. Gebed aan ons God het ook hierdie gedig laat uitwerk!

Onverdiende respek

in gesinne is lank terug

vir afknou en onreg

regverdiging gevind:

vrou en kind

moet respek éérs verdien!

Enkeles het vir Respek gepleit,

gesoebat dat die nasie moet leer:

Respek is naasteliefde!

Leiers was geskok oor hiérdie onkunde:

“Respek word mos verdien.

Almal is dit lank terug geleer –

anders is daar geen beheer!”

Aan hul eie afknou en misdaad

is dié liefdelose nasie dus oorgelaat –

geketting om vry die eie

én die vreemdes te haat!

Onwelkom, haweloos het Respek

onder ‘n brug gaan lê…

Nou word daagliks op televisie

gesien

‘n nasie wat huil oor die vermoordes

en al dié wat misluk het

om respek te verdien!

Om sy vrees te vergeet

In ons land is gesinsgeweld tans onder die vergrootglas – daarmee saam regters se ligte vonnisopleggings vir hierdie verwoestende monsters!

In die onderstaande gedig probeer ek die bose siklus van geweld in die gesin beskryf. Ek glo as jy jou kind emosioneel doodmaak, sal hy die monster word wat vir niemand omgee nie.

Om sy vrees te vergeet

God se eie geliefdes

word as gesin aan ‘n man geleen:

‘n kosbare geskenk, ‘n seën

– om in liefde na Hom te lei!

Tog, ná sy pa se liefdelose beheer

is dit sy éie mag

waarna dié magtelose smag –

om vreesloos te kan regeer!

In sy gesin saai hy stom vrees –

dit laat hom die “baas” wees.

Verslaaf aan sy eie mag

word hy ‘n liefdelose god:

soos sy pa,

kan hy nie ín homself

vir sy vernielde vrou

sy weerlose kind

enige genade

of ontferming vind.

Almal is bevry, behalwe die vrou!

Uiteindelik is daar opstand in ons land oor hoe wreed vroue en kinders deur sommige mans behandel word! Inderdaad ‘n misdaad teen die mensdom hierdie reg??? wat dié lafhartige mans hulleself toe-eien. Die kernvrae is: Hoeveel emosionele skade word aangerig – veral aan die kinders? Hoe genees hulle? Hoe gaan hulle eendag in ‘n gesin optree?

Waarom word hierdie bose sirkel nie gebreek nie? Want die land se regering, sy wette, prokureurs en regters voel bitter min vir ‘n vrou of vir kinders!

Om ‘n gesin te hê is so ‘n fantastiese voorreg. Waarom vertroetel hierdie soort mans dit nie?

Stryd van die weerloses

die “hoof” van sy huis

is ‘n rillermonster

wat lafhartig bly skuil

in sy swygende gesin –

daar breek hy in stukke

dié weerloos teenoor hom –

sý vrou, sý kind!

Hy swaai sy septer

weet presies hóé

vrees moet regeer:

rand aan, verkleineer…

Hy beskerm nie;

laat lafhartig die onreg tier:

met ysterkloue en vuurspu-wende bek

verwoes hy vir plesier –

want hy is ‘n monster

‘n sadistiese dier!