2. Omgee 

ek is lief vir jou

vir die klein redetjies

dít wat sê: jy dink aan my

jy wil my lewe met my deel

ek is lief vir jou

want ek is nie meer alleen nie

nie met my vrae nie,

nie met my seer nie –

ook nie met my gesukkel nie

jy help my

om my ontwil …

ek is lief vir jou

want jy laat my toe

om deur jou siel te stap –

om jou te leer ken vir wie

jy vir ons wil wees

ek het jou lief vir die klein redetjies wat vir my álles is

******

Net beter

verpak in die mooiste sakkies

is in hierdie liefde

die lewe in helder papiertjies toegedraai –

reg vir proe, geniet…

tog, as die sleg

lank na die byt nog

in my mond bly lê

word ek al liewer vir jou

wat help kou en sluk,

só die seer tot draaglik halveer

en is daar meestal vir ons

net soet om saam te geniet

word saam met jou

die soet heuningsoet

word ek

net nóg liewer vir jou!

*******

Juwele van die liefde

Vir ons almal gun ek

‘n realistiese liefde:

ek gun ons nie

die hulpelose prinses

wat heel selfstandig

geld kan spandeer

ook nie die gierige, ryk prins

wat nooit huis toe keer…

Ver bo dié sprokietragedies

wens ek ons almal toe:

die diamant om te kan aanvaar

wie en wat elkeen werklik is,

ook: die goud van vergewe

dan, dít waaroor álles gaan:

die pêrel om intens te luister

om só beter te kan verstaan!

*******

Definisie van die liefde

Ons stap op die rivieroewer

van jou ruim Afrika hart:

in die vele vrugte van die vyeboom

leer jou wysheid my

om te glo dat môre goed sal wees,

dat in die hoopvolle gees

planne vrug sonder vrees

as ‘n bosveldvisvanger skielik roep

en jy vra: “Hoor jy?”

eggo jou omgee binne my

laat dit my soek deur die toppe…
dan, in die knoppiesdoringboom

se fyn groen sambreel

vind my oë die visvanger
vind ek wie jy

werklik is vir my

*******

Jy is my Venesië

jou realiteit het sag ontvou

toe die boot deur mistigheid nader

aan land het ek jou

verwonderd beskou

my oë se dors na jou geles

die St. Markus klok

het uniek gebeier –

in my het dit weergalm

dat jy my Venesië is!

jy het my ook herken,

jou hand uitgesteek

rustig het ons

sonder maskers óf voorwaardes

op die melodie van die woorde

van ons soekende siele

op die drywende plein

begin dans

*******

Parysliefde

weerskante van die rivier
het ons elkeen
op sy eie oewer gestaan
voor ons het diep vreemde waters
die skeiding beaam…
tog was daar die moed
om die waters te toets
mekaar halfpad te ontmoet
ons het toegelaat
dat sagte druppels ons leer
dat ons genade en seën

op mekaar moet laat reën

golfies het ons veilig omkring

en groter uitgegolf

ons liefde ‘n Seinrivier gemaak

wat ons oewers kon verenig

in ons eie Parys –
met ‘n verligte Eiffel
van ons liefde

*******

*******

Wonder

deur jou word ek

sonder eise

sonder grense

in groot geduld

eeue al nét aanvaar

in hierdie grootse misterie

is daar oorsien, genade,

vergifnis,

is daar die wete

dat die verstaan

van hierdie realiteit

vir my

ewig misterie sal bly

*******

‘n Leeftyd van liefde

In hierdie leeftyd van liefde
is daar nie net omgee,
maar onmisbaar en kosbaardie intense luister

na siele wat ons spontaan
vir mekaar ontbloot,
in hierdie liefde
word ons vervul

deur die genade

van eindelose begrip

as ons in die eerlikste waarheid

mekaar ervaar en aanvaar
vir wie ons werklik is…

*******

Deel met my

In my kasteel

kan jy veilig met my deel:

al jou geheime en drome…

Ek sal my ridders beveel

om die geheime

agter slot te hou,

maar die drome

waarmee jy my vertrou

wil ek lééf

met jou deel

in ons eie kasteel!

*****

Jy

Ek word aangedaan stil

as jy jou oë vir my afskil

en met ontblote sagtheid

jou weerloosheid

as offer gee

(San Dreyer)